• Kategorieë

  • Argief

Dirk Gysbert de Villiers (26 Julie 1924 tot 28 Desember 2009)

Wie in engele glo  . . . As ek ‘n boek oor Dirk de Villiers moet skryf, sal dít die titel wees. Want hý was die engel wat oor my pad gekom het.

Toe ek Dirk die eerste keer ontmoet het – dit was by die première van That English Woman – het hy oor die fliekgangers heen vir my gekyk en kliphard gevra: Wie’s daai blonde?” Ek is lankal nie meer blond nie en ek dink ook nie meer aan Dirk as die obnoxious ou man nie.

Want, sien, ek het die voorreg gehad om Dirk die mens te leer ken, ‘n ervaring wat ek tot oudag sal koester. En dít wat ek gesien het my oortuig – hierdie man is te goed om van híér rond te wees  . . .

Tot met sy dood nog sien ek in Dirk die klein seuntjie wat sy ma op vier verloor het, wat kleintyd van vroegdag tot sononder in die veld moes speel om onder sy stiefma se voete uit te bly.

Hy het in ‘n tyd grootgeword toe daar geen telefone of radio was nie, toe mense nog briewe geskryf en die buurplase vir mekaar met spieëltjies van die koppies af seine gestuur het.

In sy leeftyd het hy meer beleef as enige ander mense van sy jare – wie anders kan sê hulle het ‘n skip gesink in die hawe van Malta, ‘n maand lank met skeurbuik in Arabië vertoef, vroedvrou op die oop see gespeel en ‘n Chinese seeman uit ‘n masjienkamer vol brandende olie gered?

Hy het stowe vervaardig, toneelstukke geskryf en rolprente gemaak. Ek het kleintyd die wonder beleef van daardie groot treffers – Min Shaw en Franz Marx in Jy is my Liefling en so baie ander. My broer, toe skaars agt, het so gelag vir Die Drie van der Merwes dat al die bioskoopgangers later net vir hom gekyk het.

En dan was daar natuurlik My Broer se Bril  . . .

Arende is waarskynlik die grootste bydrae wat tot nou toe nog in die plaaslike televisiebedryf gemaak is. Ek het genoeg van sy werk gesien om jare gelede al te weet Dirk was een van die grotes van ons tyd. En dit was lank voordat ek Dirk werklik leer ken het  . . .

Wat my die meeste getref het van Dirk, was sy ongelooflike passie vir die lewe – die manier waarop hy oor die klein dingetjies opgewonde kon raak. Hy kon liries raak oor ‘n klein veldblommetjie wat ander sou vertrap sonder om eens raak te sien, oor die vorm van die wolke, die kleur van die lug.

Dirk het op sy dag groot rykdom geken. Maar selfs nadat hy feitlik alles verloor het, het hy nooit enigiemand iets ontsê nie. Hy was waarskynlik die vrygewigste mens wat ek ken – daar is baie mense wat hier rondloop wat dit nooit sou gemaak het as dit nie vir Dirk was nie. En net soveel mense wat misbruik gemaak het daarvan.

Maar dis omdat Dirk iemand was wat in die goedheid van die mensdom glo. Naïef was hy beslis nie. Met soveel mensekennis en die vermoë om aura’s te lees, het hy hom deur niemand laat mislei nie. Ek dink net hy het daaraan geglo om elkeen ‘n billike kans te gee.

Hy was ‘n man wat soveel liefde gehad het om te gee, selfs al het hy nie altyd die liefde gekry waarna hy gesmag het en oor en oor verdien het nie. Hy het my geleer om weer te glo – in die liefde, die lewe en in myself. Dankie, Dirk.

One Response

  1. Mmm, ek was pas uit die skool en met vakansie op Augrabies toe ek oom Dirk raakgeloop het wyl hulle besig was om Arende daar te skiet.

    Wanneer die kameras die gedraai het nie, het almal wat nie ‘n kameel na ‘n volgende toneel moes neem nie, rondom oom Dirk gekoek, want een of ander staaltjie was op die punt om vertel te word.

    Of, mind you, een of ander vuil grappie en drie vloekwoorde.

    Voorwaar ‘n kleurvolle, begaafde karakter.

    Trots Suid-Afrikaans.

    Mag daar nog mense soos hy opstaan en diep spore trap!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: