Advertisements
  • Kategorieë

  • Argief

Dirk was bedryf se laaste legende — Die Burger Briewe 7 Januarie 2010

Dit is met skok dat ’n mens gehoor het van Dirk de Villiers se afsterwe. Stellig die laaste legende van die Afrikaanse rolprentbedryf is nie meer daar nie. Goeies is daar nog, dalk selfs beteres, maar nie legendes nie.
Tipies van Dirk het hy gedurende die verfilming van die TV-reeks Ou Grote die aksie gestop toe hy hoor ek het nog nooit in ’n helikopter gevlieg nie en vir die vlieënier van die swart gevaarte gesê om my vir ’n spin te vat.
Dirk: matroos, draaiboekskrywer, verhoogskrywer, akteur en boweal rolprentmaker; die bedryf sal hom mis.
Nag, Ou Grote.
Johan en Lida Botha Leipoldtville

Advertisements

Die Burger 4 Januarie 2010 Vriende groet rolprentmaker

Marelize Barnard

Stellenbosch

“Hoor hier, is jy daardie stupid dommerd…” Dít was die kennismaak-woorde tussen die twee legendariese rolprentmakers Dirk de Villiers en Jan Scholtz.

Scholtz het Saterdag by ’n afskeidsfees vir die afgestorwe De Villiers sy ou vriend vereer, gegroet en onthou watter korrelkop hy was.

Hul eerste gesprek, dekades gelede, het gegaan oor Scholtz se rolprent Snip en Rissiepit.

De Villiers het, soos hy goed geken is in die bedryf, sy sterk mening gelug oor Scholtz se trefferfilm. Hy was nié vol komplimente nie.

“Toe sê Dirk: ‘Waar is die naaste kroeg?’ Toe begin ons drink,” het Scholtz Saterdag hul gesprek onthou.

“Ou Dirk was uitgesproke. As hy ’n ding wou sê, hét hy. Hy het gereeld oor ’n nuwe movie gesê: Dit is die grootste pot k–k dié.”

Saterdag se afskeidsbyeenkoms van familie, vriende en strydrosse van die Afrikaanse film- en dramawêreld wat op die plaas Muldersvlei buite Stellenbosch gehou is, was nie een van sagte fluisterwoordjies van onthou nie.

“Ons is almal hier om hom te onthou soos hy was. Sy lus vir die lewe. Hy was innoveerder, kreeftrekker en party animal of note,” is hoe sy seun, die akteur Gys de Villiers, sy pa beskryf.

Die rolprentmaker se oudste dogter, me. Lida de Jongh, onthou haar pa as storiemens. “Hy was ’n opwindende pa. ’n Baie realistiese mens. Sterk, rustig. Hy kon baie stories vertel en het ’n ongelooflike geheue gehad.”

De Villiers is op 28 Desember in die Chris Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad op 85-jarige ouderdom oorlede nadat hy ’n hartaanval gehad het.

Hy het die TV-reeks Arende as een van sy grootste prestasies beskou.

“Ons het dit gesien kom. Hy het dit gesien kom. Ek dink toe sy oudste broer (Cornelius Valkenburg de Villiers) ’n paar maande gelede dood is, het Dirk in ’n stadium besluit dit is nou sy tyd. Al het hy moeilik van sy lewe afgesien,” het Scholtz Saterdag gesê.

En was Scholtz se jare lange vriend bang vir die dood? “Ek dink nie hy was so bang vir die dood nie. Ek dink hy was so lief vir die lewe,” het Scholtz geantwoord.

– Die Burger

Die Burger Hoofartikel 30 Desember 2009

Op 12 Desember skaars twee weke voor sy dood het die rolprentmaker Dirk de Villiers sy laaste rolprent, ’n dokumentêr, klaargemaak. Hy was op 85 SA se oudste lewende rolprentmaker en sy nalatenskap is so omvangryk soos dit gevarieerd is.

In ses dekades het hy sy kuns soos sy lewe as een groot opwindende avontuur aangepak en diep spore gelaat. Vir enige rolprentgenre tot animasie het hy kans gesien en het hy sukses behaal. Bowenal het hy sy gehore laat skater met onlangse prente soos Kalahari Harry en Kaalgat tussen die Daisies.

Dié opgeleide meganiese ingenieur het as lid van ’n amateurtoneelgroep met sy kleurryke loopbaan in die kunste begin – eers as akteur en dramaturg en later in die regiestoel. Sy romantiese komedie Jy is my Liefling met Min Shaw en Franz Marx in die hoofrolle was in 1968 een van sy eerste treffers; later sou My Boer se Bril volg .Sy verkennende dokumentêr oor die Kangogrotte is uitstaande en sy onlangs dokumentêr oor die ontslape hartpionier Chris Barnard het aandag verdien. Sy grootste werk, het hyself gereken, was die bekroonde en baanbreker televisiereeks, Arende.

Dit is ’n ryk lewe en nalatenskap wat geboekstaaf behoort te word.

Die Burger 29 Desember 2009: Legendariese rolprentmaker Dirk de Villiers sterf

Laetitia Pople

Kaapstad. – Die legendariese rolprentmaker Dirk de Villiers is gistermiddag in die ouderdom van 85 dood.

De Villiers, bekend vir die bekroonde baanbreker-televisiereeks Arende en rolprente soos Tant Ralie se losieshuis, My broer se bril, Die geheim van Nantesen That Englishwoman, is in die Chris Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad oorlede.

Hy het die aand voor Kersfees ’n hartaanval gehad, waarna komplikasies en orgaanversaking ingetree het. Volgens sy seun, die akteur Gys de Villiers, het sy pa gister stil gesterf.

De Villiers sr. was sowat ses dekades lank voor en agter die kamera werksaam – hy het 25 vollengte-rolprente en 13 dokumentêre gemaak.

Volgens Leon van der Merwe, wat verlede jaar ’n huldigingsprogram vir hom op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) saamgestel het, was De Villiers een van die eerste regisseurs wat talent oor die kleurgrens raakgesien het. Sy prent Jantjie kom huis toe was die eerste televisierolprent met ’n bruin rolverdeling.

De Villiers het nog tot onlangs daagliks kantoor toe gegaan en het ook pas die dokumentêr Sillis, seed is life, life is seedvoltooi.

In ’n onlangse onderhoud met Mariana Malan in Beeld se susterskoerant Die Burger blyk sy volgehoue hartstog vir sy kuns.

“Ek het ’n lewe van stabiliteit prysgegee om rolprente te maak. Ek het myself uitgeleef. Deur my werk kon ek sê wat ek wou. As jy nie kan doen waarvan jy hou nie, kan jy net sowel dood wees,” het hy gesê.

Die veteraan-rolprentmaker Jans Rautenbach het De Villiers as een van die grotes bestempel. “Hy het ’n beeld uitgestraal van onverganklikheid, ’n lewenslus wat vir niks stuit nie. Hy was altyd besig met ’n projek, iets wat hy wou maak…

“Verlede jaar met die oorhandiging van die De Kat-toekenning het ek gesê hy is soos die Josefskleed van ons bedryf met die verskillende fasette wat hy daaraan gegee het – vir almal het hy liefde en tyd gehad. Ek is dankbaar vir sy vriendskap en die kleed van liefde wat hy oor my gehou het.”

Die aktrise Jana Cilliers, wat saam met hom aan Arendegewerk het, het gesê sy dood is die einde van ’n era en sy is dankbaar dat hy so lank gespaar is.

“Hy was een van die geesdriftigste mense wat ek geken het – ’n geesdrif vir die lewe en rolprente. Ek is hom ewig dankbaar vir die plekke waarheen hy my op ’n geestelike en letterlike vlak geneem het.”

Die joernalis Karen Hart, ’n jare lange vriendin, onthou sy ongelooflike lewenslus. “Hy het die lewe van tien mense geleef en alles met oorgawe en lewensdrif aangepak.”

Die rolprentakademikus Martin Botha het De Villiers se waagmoed uitgesonder. “Hy het nooit gehuiwer om te eksperimenteer in sy kuns nie, hy het veral met genre gespeel en het werklike vernuwing na die Suid-Afrikaanse rolprentkuns gebring.”

Gys de Villiers beplan ’n groot partytjie ter ere van sy pa. “My pa was nie iemand vir gedenkdienste en so nie.”

De Villiers word oorleef deur sy lewensmaat, Miems Swanepoel, en sy kinders, Gys, Jakes, Lida en Miemie, asook kleinkinders en ’n agterkleinkind.